Ons Huwelike
Hallo aan almal (weereens), my blog was vir die afgelope jaar baie stil (ek bedoel eindlik ‘non existent’) maar ek gaan my bes probeer om iets so elke nou en dan te skryf. Ek is op die oomblik op ‘n ’sabbatical’ - dit klink baie beter as om te se werkloos en moet kinders grootmaak. Gelukkig is altwee die seuns in die oggende in die skool en het ek dan bietjie tyd vir myself.
Soos die spreekwoord sê: Naas Dood en Egskeiding is trek een van die mees ontwrigtende aspekte van ‘n mens se lewe. Ek kan getuig hiervan. Ons trek Kaap toe was (en is) emosioneel uitputtend, en om ewe skielik tot stilstand geruk te word en te moet boeke vat van jou lewe is partykeer iets wat ‘n mens eerder wil uitstel/afstel. Nietemin, binne jou eie verwysingsraamwerk groei ‘n mens in jou wese deur hierdie “ontwrigtings” in jou lewe. En ek is dankbaar daarvoor. Ewe skielik is ander dinge vir jou belangrik, jou man en kinders word eerste gestel, want daar is nie meer ‘n veeleisende werk wat knaag aan jou vir verslae en alle krag uit jou mergel nie. Jy het tyd vir jou kinders, al voel dit partykeer asof jy hulle teen ‘n kapstok gaan ophang as hulle nie ophou baklei nie. En ‘n mens kyk weer met nuwe oë na hulle, hoe hulle persoonlikhede verskil en besef weereens hoekom jy elkeen so verskriklik liefhet, juis omdat hul in eie reg en wese, uniek is. Maar genoeg van die kinders.
Ek het die volgende uittreksel gelees, na aanleiding van “ontwrigtings”, geskryf deur Gretha Wiid (geneem uit Finesse) en dit het my aangegryp en laat wonder - was ons almal nie al daar nie (man of vrou), miskien het jy dit nooit erken aan jou lewensmaat nie, miskien het die verhouding, deur die genade, nooit verder gegaan as ‘n “fling” nie, of dalk het dit ….:
“V: Dit voel of ek tussen die spreekwoordelike duiwel en die diepblou see sit. Daar is ‘n man by die werk met wie ek baie goed oor die weg kom. Ek weet dis verkeerd, maar ek geniet sy nabyheid meer as die van my man. Hoewel hy ook getrou is, glo ek hy is my sielsmaat. Het ek ‘n fout gemaak om met my man te trou? Ek weet nie waarheen nie!
A: Die gras aan die ander kant lyk mos altyd groener! Al ooit gewonder of die hoeveelheid mis aan daardie kant iets daarmee te doen het? Jy gaan nie van my raad hou nie, maar hier is dit!
‘n Slukkie Lou Water?
Jy het waarskynlik ook gevoel jou man is jou sielsmaat toe julle destyds getroud is. Jy het toe sekerlik geglo hy gaan jou vir altyd gelukkig maak, maar … Julle huwelik het intussen sy vonk verloor.
Hierdie nuwe “sielsmaat” van jou gee aandag aan ander vroue met wie hy nie getroud is nie (jy’s ‘n bewys daarvan!), hy is ook bereid om sy kinders se emosies te bedreig vir ‘n “ander” vrou!
Wat laat jou dink jy gaan vir ewig voel soos wat jy nou voel?
Onthou, alle verhoudings begin met vlinders in die maag! Maar mettertyd loop alle huwelike onder stres en probleme deur. Finansiële stres, kinders grootmaak, moeilike skoonfamilie, siekte, ouderdom, oortyd by die werk … noem maar op! Jy sien nou net die beste van hierdie man. Sy “af”-kant is dalk erger as dié van jou eie man. Jy het naïewe hoop as jy dink dat julle ‘n geseende verhouding kan hê. Wie sal dit seën? God?
Nee, Hy eer verbonde. Hy sal nie. Punt! Sy seën lê by jou huidige verbond! Wat vevul hierdie man vir jou wat deur jou man afgeskeep word? Ons moet altyd weer herinner word dat 90% van alle buite egtelike verhoudings gegrond is op hóé die persoon jou láát voel en nie hoe jy óór hom voel nie! Iemand wat werklik dors is, sal bereid wees om tevrede te wees vir ‘n klein slukkie lou water! Is jy emosioneel dalk so dors dat jy lou water aansien vir ‘n vars fontein?
Begin soek by jouself!
1. Gaan op jou knieë en praat hierdie ding met die Here uit. Bely jou gevoelens en vra om vergifnis. Jy het perspektief nodig. Jou hart is op die verkeerde plek en skreeu teen dit wat reg is!
2. Maak dan’n afspraak met jou man. Vertel hom, sonder om hom te beskuldig, dat jy regtig méér wil hê. Sê vir hom dat jy julle ou verhouding mis.
3. Praat oor wat jy emosioneel nodig het; dat jy dalk meer koestering wil hê en dat hy tyd moet maak om na jou te luister. Sê jy wil meer gesinstyd, meer lag en meer opbouende en waarderende woorde hê. Vertel hom wat jy nodig het om weer te blom.
4. Die belangrikste is dat jy ook vir hóm moet vra wat hy nodig het om werklik gelukkig te wees. Jy het waarskynlik ook met die jare verander. Jy was dalk altyd avontuurlustig, het meer gelag, het belanggestel in jou man se dinge, was meer gretig oor intimiteit … het minder gekla en gekritiseer?
5. Die moeilikste ding is om selfondersoek te doen en om ons eie aandeel te erken en dan te verander. Maar dis wat dit gaan verg - ‘n vrou wat ongeag haar gevoelens bereid sal wees om te baklei vir die belofte wat sy gemaak het! Glo dat jy ‘n wonderwerk in jou huwelik sal beleef. Droom groot! Want ons God kan ‘n hart van klip sag maak.”
Sterkte vir almal wat hierdie paadjie al geloop het (en nog dalk eendag gaan loop).











